Saturday 17 April 2010

Na 3 jaar, 4 maande and 17 dae - wat mis ek nog....

Wou natuurlik eers in Engels geskryf het.  Maar het myself belowe om elke tweede keer Afrikaans te skryf want netnou vergeet ek hoe.

Vanaand is ek weer melancholies.  Miskien omdat 'n vulkaan in Ysland 'n groot wolk as uitgespoeg het en niks vliegtuie in Europa kan rondvlieg nie, miskien omdat dit warmer is en ons kon braai en Afrikaanse musiek luister, miskien omdat my baba onlangs verjaar het en vier geword het.  Wie weet...

Want toe wonder ek as vliegtuie nie bestaan het nie en almal net moes bly het waar hulle gebore is, in hulle tuisland, en net hulle bes moes probeer het om dit te laat werk want daar was geen ander opsie nie, wat dan?  Sou dit dalk nie beter gewees het nie.  Miskien nie.

En alhoewel dinge nou al makliker is vir my hierso, is daar steeds dinge wat ek mis, en dinge wat ek nie juis mis nie maar as ek daaraan dink dat dit nie meer daar is nie raak ek nog hartseer.

So wat mis ek nog na drie jaar (en vier maande en seventien dae):

1.  Ek mis huise so groot soos sale.  Wat weergalm as jy inloop.  Met 2 sitkamers en 'n dubbelgarage en 'n kombuis met 'n aparte opwaskamer.  Met 'n tuin waarin jy kan verdwaal en 'n swembad.  Die tipe huis waarin die meeste mense wat ek ken in Suid Afrika bly.  Want in so huis kan jy maar nog 'n speelding of wit olifant inbring en daar sal 'n plekkie vir hom wees.  Want hier wil ek nie eens klere koop nie want waar op aarde gaan ek dit bere.  En as ek vir my kinders verjaarsdagpersente koop is dit altyd 'n groot penarie want daar is nerens om dit weg te steek voor die groot dag nie.  Behalwe in die kar se kattebak.  So 'n Suid Afrikaanse huis is my hartsbegeerte, my nommer een verlange.

2.  Ek mis my mense.  Jammer die moes seker nommer een gewees het.  My vriendinne met wie ek op die stoep kon kuier terwyl die kinders swem terwyl ons bekers koffie of glase wyn drink, afhangend van of iemand swanger is of nie.  Om Afrikaans te praat en my siel te ontbloot op 'n daaglikse basis, hetsy met my baas by die werk of my vriendin by haar huis, want mens kan dit maar doen in Afrikaans, maak nie saak nie, as dit jou pla, le jou hart oop.  Hierso krop ek op by die huis en ontbloot op verkeerde tye met verkeerde mense want ek moet tog net die sake van my hart af kry en dit voel afhoewel ek praat en praat of dit steeds in my krop sit.

3. Die weer.  Of liewers die gebrek aan sonskyn.  Die winter hierso in Engeland is 'n sware storie, dis koud en dis grys.  En as dit nie koud en grys is nie is dit koud en donker.  En al wat daar te doen is is om jouself baie dik aan te trek, skool toe en terug te ry en die res van die tyd in jou huis te sit en koud kry.  Behalwe vir die drie keer 'n dag wat jy 'n warm bad vat wat gelukkig heel moontlik is hier met gas wat die water warm maak.  En moenie eers praat van as dit sneeu nie - dis in 'n klas van sy eie.  Ek wil liewer nie oor die weer praat nie.  Behalwe dat dit nou lente is en ek skoon verbaas is oor hoe baie dinge mens kan doen as jy nie in die huis sit nie.  Parkie toe gaan, fiets ry, tuine besoek, gaan  stap, piekniek hou, kastele besoek, dieretuin toe gaan - die moontlikhede is legio.  Vandag was dit 18 grade buite, ek en Silke ry in die kar toe vra sy my hoekom is haar gesig nat, ek se toe vir haar dis omdat sy sweet van warm kry.  Die arme kind is skoon verstom en weet nie eens van sweet nie?  Die ander vraag is hoekom sy so warm kry terwyl dit nog so koud is!!!

Behalwe vir die drie dinge kan ek seker nie kla nie.  Mieke is in 'n wonderlike skool, die gesondheisdienste is uitstekend, dinge is goedkoop, ek het lekker vriende en bure.  En normaalweg is ek sekerlik gelukkig.  Behalwe op 'n sonskyndag wanneer 'n vulkaan in Ysland wolke uitspoeg en my baba haar vierde verjaarsdag gevier het.